Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 19 FEBRUARIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van Victor le Grange, ZR6VLG, op Dinsdag 14 Februarie 2012 in die ouderdom van 71 jaar aangekondig moet word.
Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

AMATEURRADIO KRY ‘N NUWE BAND EN ‘N ITEM OP WRC-15 AGENDA

SARL NASIONALE KONVENSIE BESPREKINGS NOU OOP

SAAMSAT GAAN KLETSKOUS CUBESAT AANLYN OPDATEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

AMATEURRADIO KRY ‘N NUWE BAND EN ‘N AGENDA-ITEM OP WRC-15 AGENDA

Dis amptelik! Afgevaardigdes wat die Wêreld Radiokommunikasie Konferensie bygewoon het, het ‘n nuwe 7 kilohertz wye sekondêre toekenning van 472 tot 479 kHz vir die amateurradiodiens goedgekeur. Agenda Item 1.23 het beide sy eerste en tweede lesings by die voltallige sessie op Dinsdag 14 Februarie gehad, om deel te word van die ITU se radioregulasies. Elke agenda-item moet twee maal voor die voltallige sessie gelees word. Terwyl die finale handelinge op Vrydag 17 Februarie by die afsluiting van die Konferensie onderteken is, sal die nuwe toekenning nie in werking tree alvorens dit in die Radioregulasies ingeskryf is nie. Geen datum is tot nou toe gestel nie maar dis onwaarskynlik dat dit voor 1 Januarie 2013 sal wees. Geen amateur mag die band gebruik totdat OKOSA die tabel van amateurfrekwensietoewysings hersien en gepubliseer het nie.

“Hierdie is ‘n fantastiese prestasie vir die amateurradiodiens”, het IARU-president Tim Ellam, VE6SH, gesê. “’n Nuwe toekenning van spektrum is altyd iets wat gevier moet word. Die sukses in hierdie verband is die gevolg van die harde werk van ons IARU-verteenwoordigers oor die afgelope vier jaar, asook die vrywilligers by die vele IARU-Ledeverenigings wat so hard namens hul nasionale administrasies binne die ITU-proses gewerk het. Dit is uitstekende werk van ons span in Genève, en diegene wat vanaf hul tuislande gehelp het”.

Agenda Item 1.23 het oorspronklik gevra vir ‘n 15 kHz-wye spektrum in dele van die 415-526,5 kHz band, met inagneming van die noodsaaklikheid om bestaande dienste te beskerm. Die oorspronklike idee was 495-510 kHz, maar volgens die ARRL Hoof Uitvoerende Beampte David Sumner, K1ZZ, het dit gebots met die 495-505 kHz Maritieme Mobiele diens. WRC-12 se afgevaardigdes het Agenda Item 1.10 goedgekeur wat gevra het vir ‘n uitsluitlike wêreldwye toekenning aan die Maritieme Mobiele diens van 495-505 kHz. Samesprekings oor hierdie toekenning aan die Maritieme Mobiele diens “is al aan die gang gedurende die voorbereiding vir die konferensie (d.w.s. sedert 2008),” het Sumner verduidelik, “en was die rede waarom die MF-amateurtoekenning nie in hierdie band gemaak kon word soos gehoop is nie. Dit is hoekom ons elders moes kyk en wat ons in konflik met die lugvaart se radionavigasie geplaas het.

Volgens Colin Thomas, G3PSM, die CEPT-koördineerder vir Agenda Item 1.23, het WRC-12 afgevaardigdes vroeg in die konferensie vorentoe beweeg toe hulle ‘n “skikkingsvoorstel” voorgelê het vir ‘n nuwe toekenning. “Vordering is gemaak met ‘n skikkingsvoorstel aan Agenda Item 1.23, ontwerp om die sienswyses van die wat vir die toekenning rondom 500 kHz aan die Amateurdiens was en die daarteen. Hierdie voorstel het ‘n 7 kHz segment tussen 472 en 479 kHz voorgestel, wat baie naby aan die CEPT standpunt van 472-480m kHz was.

Die nuwe toekenning vra vir ‘n wêreldwye sekondêre toekenning aan die amateurdiens van 472 tot 479 kHz, met ‘n kragbeperking van 1 Watt aangeduide effektief uitgestraalde krag. ‘n Toegif is gemaak dat administrasies tot 5 Watt AEUK toelaat vir stasies wat meer as 800 km weg is van sekere lande, wat hul lugdiens se radionavigasiediens (se alomgerigte bakens), van enige moontlike steurings wil vrywaar.

Een van die verantwoordelikhede van elke WRC-afvaardiging is om die agenda vir die volgende WRC op te stel. WRC-12 afgevaardigdes het ‘n amateurradio verwante agenda item vir die WRC-15 goedgekeur: Om die moontlikheid van ‘n toekenning van die nodige spektrumgedeelte aan die amateurdiens, op ‘n sekondêre basis in die 5 240 – 5 450 kHz toe te ken, maar nie noodwendig aaneenlopend nie. Hierdie sal Agenda Item 1.4 by WRC-15 wees.

“Dit is altyd ‘n uitdaging om items op die agendas van toekomstige WRC’s te plaas,” het IARU President Tim Ellam, VE6SH, gesê. “Ek is bly dat ons daarin geslaag het om ‘n agenda-item vir ‘n moontlike 5 kHz, op ‘n sekondêre basis, te plaas. Daar sal baie werk gedoen moet word oor die volgende ITU-studiegroepsiklus. Baie dank moet gaan aan die IARU en die nasionale afvaardigingspanne in Genève vir hulle harde werk aan hierdie saak.

SARL NASIONALE KONVENSIE BESPREKINGS NOU OOP

Bespreek nou vir die SARL se nasionale konvensie wat in Pinetown vanaf 20 tot 22 April 2012 gehou gaan word. Volledige besonderhede is nou aanlyn beskikbaar vanaf www.sarl.org.za, tesame met ‘n registrasievorm. Vrydagaand by die ken mekaar vingerete sal daar ‘n interessante aanbieding wees oor hoe Suid-Afrika se Elektronika-industrie in Pinetown begin het. Saterdagnamiddag se sessie sal twee aanbiedings wees wat gaan oor die bou van BHF-antennas en die Logboek van die Wêreld”.

SAAMSAT GAAN KLETSKOUS CUBESAT AANLYN OPDATEER

Laai ‘n onderhoud met Hannes Coetzee, ZS6BZP, van www.amsatsa.org.za af wat gaan oor die vordering wat met SA AMSAT se KletsKOUS Cubesat projek gemaak is. SA AMSAT het ‘n fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur vir finansiële ondersteuning, en vra dat radioamateurs sal bydra.

TEXAS AMATEURS REIK NA WÊRELDREKORD BALLONPOGING

‘n Groep radioamateurs hoop om ‘n wêreldafstandrekord op te stel vir ‘n onbemande helium gevulde ballon. Die BLT-28 ballon sal ‘n reis oor die Atlantiese Oseaan en die Middellandse See tot in Nanjing, Sjina onderneem. Die Suid Texas Ballonloodsingspan het die ballon op 11 Februarie vanaf Katy, Texas, net buite Houston, gelanseer.

Tydens die trans-Atlantiese vlug, wanneer buite die bereik van die landgebaseerde stasies, sal die ballon se APRS-baken op die Internasionale Ruimtestasie (IRS) se pakketdigiherhalerfrekwensie van 145,825 MHz werk. Die ballon se dravrag is slegs 5 onse en bevat ‘n hoë hoogte GPS-opsporingstelsel en ‘n 144 MHz FM APRS amateurradio sender. Om gewig, sowel as batterylewe, te spaar, is daar geen kameratoerusting aan boord nie. Die maksimum hoogte wat verwag word is bokant 26 km met snelhede van 160 tot 180 km/uur.

NUWE SATELLIETE BEREIK WENTELBAAN

Op 13 Februarie het ‘n Europese Ruimteagentskap se Vega vuurpyl vanaf Kourou in Frans Guiana op sy ingebruiknemingsvlug vertrek. Dit het die Laser Relatiwiteitsruimtetuig in ‘n wentelbaan geplaas tesame met agt student geboude MikroSats en CubeSats. Die studente satelliete sal telemetrie uitsend in die amateurradio BHF-, UHF- en mikrogolfbande asook ‘n spraakherhaler op een van die satelliete.

Hier is die besonderhede:
ALMASat-1, van die Universiteit van Bologna, Italië wat 1 200 baud pakketdata uitsaai op 437,465 en 2 407,850 MHz.
Xatcobeo, ‘n samewerking tussen die Universiteit van Vigo en ITNA, Spanje, met telemetrie op 437,365 en 145,940 MHz.
Robusta, van die Universiteit van Montpellier, Frankryk wat 1 200 baud telemetrie uitsaai op 437,325 MHz met 20 sekonde uitsendings elk 3 minute.
Est@r, ‘n projek van die Politecnico di Torino, Italië wat 1 200 baud pakket telemetrie uitsaai op 437,445 MHz.
Goliat, van die Universiteit van Bukarest, Romenië wat 1 200 baud pakketdata uitsaai 437,485 MHz.
PW-Sat van die Warskou Universiteit van Tegnologie, Pole wat ‘n spraakherhalermodus met sy telemetriefunksies insluit. Die spraakherhaler sal luister vir uitsendings op 435,020 MHz FM en heruitsaai op 145,900 MHz ESB. PW-Sat se telemetrie sal gestuur word as 1 200-baud pakket en GG op 435,020 MHz.
MaSat-1 van Budapest Universiteit van Tegnologie en Ekonomie wat 625/ 1 250 bps GFSK data op 437,345 MHz. Grondstasiesagteware is hier beskikbaar.
UniCubeSat GG van die Universiteit van Rome wat data teen 9 600-baud op 437,305 MHz uitsaai.

Suid-Afrikaanse radioamateurs word aangemoedig om te luister vir die satelliete en verslae te stuur aan amsatsa@intekom.co.za.

AMERIKAANSE AMATEURS WIL KONTAK MAAK MET ENIGEEN IN SUID-AFRIKA OP 17 METER.

Onlangs het amateurs in die VSA gesoek na kontakte met Suid-Afrika op 17 meter aangesien daar lanklaas van iemand in Afrika of Suid-Afrika op 17 meter gehoor is. Die 17 meter band is gewoonlik taamlik oop na die VSA vanaf 21:00 SAT tot 23:00 SAT. Soms is 17 meter vir langer tye oop. Onlangs is VSA-stasies in Suid-Afrika gehoor met seinsterktes tussen 59 en 44 afhangende van die stasie. 17 meter is ook vanaf Suid-Afrika na die Verre-Ooste en Europa tussen 16:00 en 18:30 SAT oop.

KOMPETISIENUUS

SARL Digitale kompetisie. Die eerste in die reeks van SARL Digitale kompetisies sal tussen 13:00 en 16:00 UTC op Sondag 26 Februarie op die lug wees met PSK- en RTD-werking op 20, 40 en 80 meter. n RST-verslag en n reeksnommer, wat met 001, begin word uitgeruil. Stasies mag tweekeer per band gekontak word, een keer op PSK en een keer op RTD. Vind die volledige reels op bladsy 57 van die 2012 SARL Kompetisieboek.

SARL Nasionale Velddag logstate. Die sluitingsdatum vir logstate vir die Februarie skof van die SARL Nasionale Velddag is middernag Sondag 19 Februarie - dit is vanaand! Teen Vrydag 17 Februarie is logstate ontvang van ZS6XT, ZS6A, ZS6BNE, ZS2EC, ZS4BFN, ZS6STN, ZS4B, ZS3R, ZS5ZLB, ZS6WR, ZS6AWW en ZS4BS.

Al het u 1 QSO of 100 QSO’s gemaak, stuur asseblief u logstaat teen middernag in. Stuur dit per e-pos na zs4bfn@netactive.co.za. Miskien is u logstaat die wenner!

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit laag is met slegs 'n geringe kans vir M-klas fakkels. Hopelik sal ou Sonvlek 1 408 sake verbeter wanneer dit oor 'n paar dae weer in sig roteer.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 50.

20 tot 10 m en veral 15 m gaan pret wees met 10 m wat net sporadies gaan oopmaak as gevolg van die lae sonaktiwiteit.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
19 Februarie, Vandag! - Laaste dag vir indiening van logs vir SARL-velddagkompetisie
20 Februarie, Môre! - Laaste dag vir indiening van logs vir Antieke Radioassosiasie se Kompetisie.
26 Februarie – SARL digitale kompetisie.
29 Februarie - Skrikkeljaaruitdaging vanaf 00:01 tot 23:59.
21 Maart - ZS6ERB se konstruksiedag.
20 - 22 April SARL-konvensie in Pinetown.

Onthou, u kan steeds nominasies instuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003